Windswaels

Windswaels
Bruinwindswaels (Apus apus)
Let op: die vlerk se vorm is anders as die van swaeltjies.
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Apodidae

Hartert, 1897
Genera

Amper 20, sien teks.

Windswaels (Apodidae) is 'n familie van voëls wat goed aangepas is om in die lug te leef en vlieënde insekte in vlug te kan vang. Hoewel hulle baie soos gewone swaels lyk, behoort hulle aan totaal verskillende ordes. Windswaels behoort tot die orde windswaelagtiges (Apodiformes), terwyl gewone swaels sangvoëls (Passeriformes) is. Die sterk ooreenkoms in leefwyse en hoe hulle vlieg is 'n goeie voorbeeld van konvergente ewolusie.

Die wetenskaplike naam, Apoda kom vanuit Grieks: απους, apous, wat "sonder voete" beteken. Windswaels het byna onsigbare kort pootjies. Hulle sal nooit vrywillig op 'n horisontale vlak land nie. As hulle nie vlieg nie, hang hulle met hulle pootjies aan 'n vertikale voorwerp, soos 'n rotswand, muur of 'n boomtak.

Die familie omvat ongeveer 20 genera met 102 spesies.[1] Die Apodidae het die meeste verteenwoordigers, terwyl geen lede van die Hemiprocnidae in Suider-Afrika aangetref word nie. Die Europese windswael (Apus apus) is ʼn bekende immigrant en word tussen November en Maart in Suid-Afrika aangetref. Lede van die genus Collocalia se neste word in Oosterse lande as 'n bestanddeel in soppe gebruik.

Die windswaels en die kolibries behoort tot die orde Apodiformes, wat voorheen as die Micropodidae bekend gestaan het en in 2 subordes ingedeel word. Die kolibries behoort tot die suborde Trochili en die familie Trochilidae. Hulle word slegs in tropiese gebiede en nie in Suid-Afrika aangetref nie. Die windswaels behoort tot die suborde Apodi en die familie Apodidae (voorheen as die Micropodidae bekend).

Die boomwindswaels behoort tot dieselfde suborde en tot die familie Hemiprocnidae. Die windswaels word gekenmerk deur 'n klein, relatief swak snawel en 'n groot bek, wat aangepas is by ʼn dieet wat slegs uit vlieënde insekte bestaan. Dit vergemaklik ook die vang van insekte in vlug. In warm weersomstandighede volg die windswaels die insekte wat deur lugstrome hoog die lug ingewaai is, terwyl die swaels in kouer omstandighede laer voorkom.

In ongunstige weersomstandighede moet die voëls noodgedwonge sonder kos klaarkom en in die opsig toon hulle interessante aanpassings: Hulle kan hut metaboliese tempo baie vertraag - byna soos gedurende 'n winterslaap- om sodoende minder energie te verbruik, of hulle kan agter voedselbronne aan trek, wat tot sommige windswaelspesies se migrasiepatrone aanleiding gegee het.

Afgesien van die voedsel word die nesboumateriaal ook ingesamel terwyl die voëls vlieg. Dit bestaan hoofsaaklik uit gepluimde sade, vere, takkies, droë blare, ensovoorts, en die materiaal word met speeksel aanmekaargeplak om ʼn nes te bou. Die voëls bring feitlik hulle hele leeftyd in die lug deur; hulle eet in die lug, hulle kan in vlug slaap en selfs paar.

Hulle keer slegs na die grond terug wanneer dit absoluut noodsaaklik is, en dit het tot gevolg gehad dat hul pote in hul ontwikkelingsproses geleidelik verswak het. Windswaels kan nie soos ander voëls op takkies of drade sit nie, maar hulle klou vas aan lysies op vertikale oppervlakke, waarvandaan hulle weer maklik kan opstyg.

  1. Gill, F., Wright, M. & Donsker, D. (2010). IOC World Bird Names (weergawe 2.6). (en)

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy